Centurion Ope – 9 Augustus – NG Saal

Sien foto’s onder Foto’s & Videos / 2014

CSG se toonaangewende Ope toernooi vind die naweek (Saterdag 9 Aug.) plaas in die Noord Gauteng saal en beloof om ‘n fantastiese ondervinding te wees, veral vir beginner stoeiers. Die eerste 250 inskrywings ontvang ‘n gratis toernooi  T-hemp. Wenners in die Presidente kompetisie ontvang ‘n kontant-prys van R250, meer as dubbel die inskrywingsgeld. Aangesien dit Vrouedag is, stoei alle dames gratis en sal dames almal ‘n goue medalje ontvang.  Ons beplan om vroeg klaar te wees, sonder om aan die kwaliteit van die stoei afbreek te doen en gaan vroeg reeds begin stoei deurdat die lotings die vorige dag reeds gedoen sal word. Dit beteken egter dat ons nie laat-inskrywings gaan toelaat nie en vra klubs om hul stoeiers se massas korrek op SAMS aan te toon.

Centurion is toegewyd om knelpunte in die aanbied van toernooie aan te spreek en stoei op die dag ‘n aangename dag vir almal te maak en die toernooi glad te laat verloop. Die O/6 tot O/10 stoeiers word ingedeel volgens  ondervinding om so te probeer verhoed dat meer gevorderde stoeiers die beginners domineer. Elkeen sal dus in ‘n groepie kompeteer van soortgelyke vaardigheid en ‘n kans staan om die groepie se goue medalje te wen. Die O/6 tot O/8 deelnemers-medalje is ook iets om met trots te ontvang – ‘n vol-grootte unieke swart medalje. Die O/9, O/10 en op, kompeteer vir Goud, Silwer en Brons. Alle medaljes word na afhandeling van die groepie se stoei op die podium oorhandig, wat ook ‘n pragtige foto-geleentheid skep en erkenning gee vir die dag se harde werk.

Aangesien dit Vrouedag is, doen ons ook iets spesiaal vir alle dame-stoeiers. Nie alleen is inskrywing vir dames gratis nie, maar hulle sal ook almal ‘n goue medalje ontvang ongeag hul plasing.

Stoei sal nie kan plaasvind sonder ons beamptes nie en ook vir hulle doen ons iets spesiaals. Elkeen kry ‘n geskenk en ‘n koevertjies vir hul moeite en ons het iets spesiaals vir die beampte van die dag. Ons sorg ook dat hulle nie honger ly nie en benewens die VIP area waar daar koffie en versnaperings gegee word, sal elkeen ook van kos voorsien word, als op die huis.

Alle klubs wat ons toernooi ondersteun het ook ‘n bietjie aanmoediging om ‘n groot persentasie van hul stoeiers in te skryf; die klub sal tot 35% terugbetaling van inskrywingsgelde ontvang, om terug te ploeg in vervoerkoste en iets by hul klub te verbeter indien die klub 80% van hul stoeiers inskryf. Inskrywings sluit op SAMS Woensdag 6 Augustus @ 23h59. Daar word op vol mat gestoei met elektroniese telborde.

Ons sien uit om almal by ons toernooi te ontvang en vertrou dat almal dit sal geniet.