Centurion stoei-ster skitter op Afrika Kampioenskappe

Die 16-jarige Reynhardt Louw is ‘n ster van die Centurion Stoei Gimnasium in en uitblinker as dit by stoei kom, waar hy as “Leeu” bekend staan as gevolg van sy krag, moed en deursettingsvermoë op die mat.  Hy het as lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kadette Stoeispan wat in Mei vanjaar in Alexandrië in Egipte aan die Afrika Kadette Stoei-kampioenskappe deelgeneem het, sy ouers, stoei-maats, klub en land trots gemaak deur onoorwonne uit die stryd te tree en met ‘n goue medalje en die titel as Afrika Kampioen terug te keer .

Met hierdie prestasie kwalifiseer Reynhardt om in Julie vanjaar aan die Wêreld Stoei-kampioenskappe in Slowakye deel te neem en ook die geleentheid te kry om deel te neem aan die Jeug Olimpiese Spele wat in November in Nanjing in China plaasvind. Hy kompeteer as Kadet (Ouderdom 16 en 17) in die onder 54 Kg gewig-groep.  Leanco Stans ook van Noord Gauteng en Elbert Steyn van Limpopo het ook goue medaljes gewen en sal Reynhardt vergesel na die Spele. Wihan van Schalkwyk het die 4de goue medalje vir SA ingepalm in ‘n gewig-groep wat nie in die Spele akkommodeer word nie.

Reinhardt is tans ‘n Graad 11 leerling by Hoërskool Zwartkop en stoei al vandat hy 7 jaar oud is. In die tyd is hy alreeds altesaam 11 keer as die SA Kampioen gekroon in Vrystyl , Grieks-Romeins en Presidente-stoei waar hy teen veel ouer mededingers kompeteer. Hy het ook reeds 20 goue medaljes op provinsiale vlak verower  en was in 2013 ingesluit in die Nasionale Stoei-span wat deur die VSA getoer en aan die Wêreldkampioenskappe in Serwië deelgeneem het.

Reynhardt word afgerig deur Neels de Jager, die hoofafrigter van die Centurion Stoei Gimnasium. “Mens kry harde werkers wat nie kampioene word nie, maar jy kry nie kampioene wat nie harde werkers is nie; Reynhardt is ‘n toegewyde harde werker en ‘n inspirasie en rolmodel vir baie van ons jong stoeiers”  sê Ben Cilliers, voorsitter van die Gimnasium.