Toergroep na Reunion Eiland Des 2014

Stoeiers van Centurion is genooi deur die Stoeivereniging van die eiland van Reunion om deel te neem aan hulle Desember Stoei week en Kers-toernooi, van 7 tot 15 Desember 2014. Die jaarlikse instelling word nou vir die sewende keer aangebied. Die doel is om stoeiers op die eiland bloot te stel aan stoeiers van regoor die wereld, en in aanraking te bring met ander kulture en tale. Die stoei-week se landreelings word bykans gratis aan die stoeiers aangebied – die meeste kostes word gedra deur die munisipaliteite, besighede, donateurs en georganiseerde sport op die eiland. Dit sal die vierde keer wees dat lede van Centurion hierdie besonderse vakansie-bestemming besoek en deelneem aan die stoei-week.

Drie toernooie word in die vooruitsig gestel:

  • Skole stoei waar die stoeiers volgens die skole-reels stoei
  • Liga stoei waar die verskillende spanne teen mekaar stoei.  Spanne kom van die eilande van Rodrigues, Mauritius, Comores, Suid-Afrika, Frankryk en natuurlik Reunion-eiland.
  • Vol-dag Kersfees-toernooi (Tournoi de Noël) die hoogtepunt van hulle stoei-jaar (soos ons JRB5) waar elke stoeier ‘n geskenk-pakkie ontvang en normale vrystyl reels gestoei word.

In die week word verskeie uitstappies beplan soos snorkel, swem, bergklim stap in die woude, besoek aan die vulkaan en besoeke aan historiese besienswaardighede. Elke aand word daar ge-oefen by ‘n klub.

Die koste vir die week, is die koste van jou vliegtuig-kaartjie na en terug van Roland Garros Lughawe in Reunion, ongeveer R7100 plus ‘n bydrae van sowat 50 Euro’s per person vir die vervoer, host-familie en kos – regtig ‘n besonderse waarde vir geld.

Belangstellendes kan vir Ben Cilliers by CSG kontak vir meer details.